C. Louis Leipoldt


Oom Gert vertel (fragment)

 
Ja, neef, wat kan ek, oumens, jou vertel?
Jy wil die storie van ons sterfte hoor?
Nou goed!
    Dis nooit te laat om daarvan nog
Te leer en van gebruik te maak - veral
Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas
Aan wat ons het, en staan orent, en neem
Jul aandeel aan ons nasie!
      Maar jy kom
By die verkeerde man; daar's baie ander
Wat jou die storie goed agtermekaar,
En met 'n les daarby, en meer begrip
Van al die politiek ook, kan vertel
As ek: ek weet maar uit my eie siel
En kan maar grawe uit my eie hart,
En dit is baie oud en amper dood -
My hart, meen ek; en waarlik, as jy self
Soveel reeds deurgemaak, soveel gely,
Soveel geworstel, en soveel gesien het
Van wat jy liewers nooit gesien het nie, 
Dan was jou hart ook nie meer sonder kraak.
Maar kom - wat kan ek nou vir jou vertel?
'n Lang geskied'nis is dit! - treurig ook,
Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef! 
Wil jy dit aanhoor? Goed!


Ontnugtering


O liefling, as ek luister na die wind
Wat snags so klaend en weemoedig suis
Deur die eikeboom se blare bo die huis,
Dan dink ek terug aan toe ek nog as kind
Gelukkig was, onskuldig, trougesind
Aan wie ek lief gehad het, sonder kruis
Of bitter hoon wat skielik op kan bruis
En skaars versagting in vergeet kan vind.

Dit was die tyd voor ek jou eers gesien het,
Voor ek kon weet dat liefde wreed kan wees
En ergste smart 'n droef genot kan dra.
Eers na my hart se hartstog jou bedien het
Tot sterwens toe, bankrot aan hoop en gees,
Heb ek geleer hoekom die nagwind kla.


Wys My Die Plek


Wys my die plek waar ons saam gestaan het,
    Eens, toe jy myne was -
Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,
    Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn, soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, 'n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam gekniel het,
    Eens, toe jy myne was -
Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,
    Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,
Lag soos voorheen op my en op jou;
Dit skitter nog altyd 'n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam geloop het,
    Eens, toe jy myne was -
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
    Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde! Net jy nie.  Vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra ?
Jy wat vergeet het - of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed ?


Die Beste


Geil lusern in die laagste landjie,
  Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
  Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
  Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skad’wees oor die klowe;
  Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!

Hoog oor die water skommel die vinkies
  Vol van die vreug van die somerdag:
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
  Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
  Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
  Somer en son en safier vir my!
Heer, Wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!

Roem van mense,  rykdomme, pragte—
  Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in dikdonker nagte,
  Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
  Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
  Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!

'Die Beste', soos dit verskyn het in die tydskrif Die Brandwag
van 15 Januarie 1915.



Die Doringboom


Kyk, hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal;
     Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;
     Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;
Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.
Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;
     Hou stewig nog teen wind en storm sy stand—
     Die oudste doringboom in ons doringboomland,
Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.
Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,
     Die hele wêreld oor sy geur versprei,
         Voor nog 'n witmens hier was of 'n pad;
Vir jare was hy bobaas hier, en mooi
     Vol groen en goud: maar nou 's sy tyd verby—
         'n Afgeleefde doringboom, droog en glad!


Die ou Meul


Rol, rol, ou wiel, en spat die skuim
     Rond om die eende in die sluis!
Die water kom van bo die berg
     Om in die meulstroom hier te bruis.

Twee groot pop'liere skadu jou,
     Ou wiel; en as die winter kom,
Dan val die blare om jou as
     En bewe, as jou speke brom.

Want nimmer het jy lang tyd rus:
     Jy werk aldag en maak geraas.
Dof in my ore klink jou stem:
     Ek hoor, hoe jy die water blaas.

Dis al 'n jaar of dertig so—
     Toe het ek eers jou stem gehoor—
'n Donker Meidag met 'n lug
     Half toe, met wolke hoog daaroor;

Die ou pop'liere was nog kaal;
     Die winter, ag, was lankal daar,
En op die berge was kapok:
     Ja, dit was bitter koud en naar!

Ek het gekoes, verkluim van kou,
     Maar jy het altyddeur gesing,
En al die ys daar in die sluis
     Het jou nie van jou stuk gebring.


Vandag

                         Oor die Anglo-Boereoorlog

Wat van die nag, o wagter op die wagplek? 
Wat van die nag, wat hom sterloos oor ons strek? 
Nie deur die knal van bomme en kartetse; 
Nie deur die suis van koeëls, die blits van sabels; 
Nie deur die rook van huise, ru in vlam; 
Nie deur die wilde war'lende rumoer 
Van krygsgedrang en woeste oorlogswoede; 
Nie deur die haat van vrind teen vrind as vyand; 
Nie deur die wrok wat wanhoop wins sal gee; 
Nie deur die onreg wat vir reg beken word; 
Nie deur die mag waar rede voor verpand word; 
Nie deur die skimp wat smart tot smaad verander; 
Nie deur die druk van dwang en dwing'landy; 
Nie deur die hardgesperde band van griewe; 
Nie deur die skand' van skaars-betaalde skuld 
Word volke en nasies opgebou tot sterkte 
En lewenskrag en louter selfbestaan, 
Of uitgedoof die glinsterglim wat gloei 
Diep in die volk se siel, en wat sal vlam 
Met voller glorie ná die worstelstryd. 
Vermom deur haat, jaloersheid en verdriet, 
Staan volk teen volk, geduldig lydend, vas 
In al wat dierlik in die mensheid woel - 
Elk mislik in homselwe as die nag 
Met skemerstreling tot oorpeinsing lok 
En elk sy dag oordink en in sy hart 
Vergifnis vir sy eie val moet vra. 
Leer dat die louter liefde vir jou land 
Die groter liefde vir jou medemens 
Nie uit- maar insluit; dat die paradys 
Nie meer op die manier van Mohamed 
Alleen bevolk word deur soldate-dood; 
Leer dat die band wat volk aan volk moet heg, 
Nie meer verbreek mag worde deur 'n hand 
Wat nie almagtig is nie; dat die see, 
Die lug hierbo, die aarde waar ons trap, 
Vry vir elk mensekind moet wees en bly - 
Nie afgebaken soos 'n agterwerf 
Vir een of ander wat die sterkste is. 
Leer dit en lewe na jou leer, en ly 
Totdat jou wêreld ook dieselfde les 
Geleer het, en wat mens is, mensheid ken.

Uit Drie wêrelddele (1923)


Die Einde


Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,
Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;
Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;
Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;
Gee, dat ons lag, as die lewenslas druk op ons harte;
Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;
Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe
Smart en verdriet, met die reg om uiteindlik te sterwe.
Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister
Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:
              "Moed, mense, hou moed!
          Die kwaad sal verander in goed:
          Die môrelig kom uit die duister."


C. Louis Leipoldt
 (1880 - 1947)


Boontoe


Leipoldt 'Oom Gert vertel'


Totius 'Trekkerswee'


Totius - De tarentaal (in het Nederlands)


Liefdesgedigte (Afrikaanse digters)


Rosa Rosarum (2 natuurgedigte)


A.G. Visser (Afrikaanse liefdesgedigte)


Jan F.E. Celliers (Afrikaanse gedigte)


Eugène Marais (Afrikaanse gedigte)


Die ossewa (Afrikaanse gedigte)


Rosa Rosarum (2 natuurgedigte)


S.J. du Toit (2 Afrikaanse gedigte)


JL Cachet (Di Afrikaanse Taal)


Sheila Cussons (Afrikaanse gedigte)


NP van Wyk Louw (Afrikaanse gedigte)


E. Eybers (Afrikaanse gedigte)


Meer oor Afrikaans



Homepage


Pageviews since/sinds 21-03-2002: 

© Gaston D'Haese: 08-05-2005.
Opgedateer op 24-07-2014.