Afrikaanse Liefdesgedigte - TOP 10

 Liefdes gedigte  

SARIE MARAIS


My Sarie Marais
     is so ver van my hart,
Maar 'k hoop om haar weer te sien.
     Sy het in die wyk
van die Mooirivier gewoon,
     Nog voor die oorlog het begin.

                    Refrein
O bring my trug na die ou Transvaal,
Daar waar my Sarie woon,
Daar onder in die mielies by die groen doringboom,
Daar woon my Sarie Marais,
Daar onder in die mielies by die groen doringboom,
Daar woon my Sarie Marais.

Ek was so bang
       Dat die kakies my sou vang,
En ver oor die see wegstuur;
       Toe vlug ek na die kant
Van die Upington se sand
       Daar onder langs die Grootrivier.

Verlossing het gekom
       En die huis-toe gaan was daar,
Trug na die ou Transvaal;
       My lievelingspersoon
Sal seker ook daar wees
       Om my met 'n kus te beloon.
Eerste versie van Sarie Marais soos dit in die jare twintig gesing is, het so gelui: My Sarie Maré is so ver van my hart, Om haar nooit weer te sien, Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon, Voordat die oorlog begin. KOOR: O neem my terug na die ou Transvaal, Daar waar my Sarie woon, Daar onder in die mielies by die groen doringboom, Daar woon my Sarie Maré.

1889 - Jan Toerien

mielies: maïs (in het Nederlands)
doringboom: acacia (in het Nederlands)




Die towenares


Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie.
   Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
   die stem van die storie-verteller is dood.
G'neen roep haar van ver nie
   om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
   en die wind treur altyd
       om hy alleen is.


Eugene Nielen Marais



Winternag


O koud is die windjie
    en skraal.
En blink in die dof-lig
    en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
    soos winkende hande.

O treurig die wysie
    op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
    tot ryp in die kou! 


Eugene Nielen Marais (1871 - 1936)


in sterlig en skade: in sterrenlicht en schaduw (in het Nederlands)



Wewenaarslied


Ag hoe word myn hart gedrewe,
   Na myn Sari wat ek min;
Ek wil ewig fer haar lewe,
   Myn geliifde siilsfrindin.

Ek wil na myn soetliif rye,
   Haar anbide al myn trou!
Nooit sal 'k na 'n andere frye;
   Haar ferkiis myn hart tot frou.

Kom, mijn pérdjiis, draf mar lustig;
   Dis mar ses-en-twintig uur.
Morge awend freet jul rustig,
   By myn Sari in di skuur.

Rep jul béne, rek jul séne,
   Morge staan jul in di stal;
Gars en hawer sal ek léne,
   Wat jul weer ferkwikke sal.

Rep jou, Witfoet, rep jou trede!
   Booi, stoot Hartbeesfanger aan!
Fleur sal morge met my mede,
   Moedig foor myn Sari staan.


A.J. Myburgh


booi: jongen, knechtje? (in het Nederlands)
séne: spieren (in het Nederlands)
hartbees: grote antilope (in het Nederlands)



Misère

  (Triolet)

The light that lies In women's eyes Just... lies and lies!

In die eerste instansie, wie sou nou kon dink, Dat die liefde iets is so beroerd ongestadig? Dat die hand wat uit gulde bokale laat drink, In die eerste instansie, wie sou nou kon dink Dat dit eendag nog edik en gal weer sal skink, Ongevoelig meedoënloos, wreed, ongenadig? In die eerste instansie, wie sou nou kon dink Dat die liefde iets is So beroerd ongestadig?


A.G. Visser



Eheu fugaces...

Si jeunesse savait. Si vitesse avait.

Onthou jy nog, Anita lief, Die aand daar by die strand, My hart vir jou ’n ope brief, Jou handjie in my hand? Die maanlig het die see gesoen, Die see … die strand, nog heet – En ons … wat kon ons anders doen? Kan ons dit ooit vergeet? Cherie Yvonne, het jy vergeet Die les in Afrikaans? Die beste taal het ons geweet, Die tyd in ou la France. En aan my hemel onbewolk Was jy die goue son; “Toujours l’Amour” was onse tolk; Onthou jy nog, Yvonne? Mooi Gretchen, kan jy nog onthou Ons tyd van soete min? Die Neckar met sy waters blou, Jou ogies blou daarin? Die donkergroene dennewoud Was liefdes-heiligdom – Alt Heidelberg, die jeug van goud, En jy – sal nooit weer kom! En, bonnie Jean, onthou jy nog Die eiland van die Swaan? Ben Lomond en die donker loch By heldere somermaan? Aan rosebanke trek ons twee (Was dit ’n droom – wie weet?) Wit swane oor die lewensee – Kan ek dit ooit vergeet? Maar eenmaal in die lewe kom Die liefde weergaloos; En eenmaal in die gaarde blom Volmaak ’n wonderroos. Verwelk, helaas, my tuin se prag – Weg met die donker stroom – Die wind deurwaai my hof by nag En vind my met my droom. O lippe wat nog lag en lonk! O harte wat nog klop! Steeds doem gestaltes ewig-jonk Uit die verlede op. “Eheu fugaces anni …” sing Gedagtes wat nou skroei; Op velde van herinnering Pers amarante bloei!


A.G. Visser



La belle dame sans merci

Die golwing van die lig wat daal Op goue koringare, Is glansloos by die gloed wat straal, Madonna, van jou hare. Die diepe see het ek aanskou, Met wonder opgetoë, Maar nog geheimnisvoller blou, Madonna, in jou oë. Ek het die roos met vuur sien gloei In tuine van verlange, Maar teerder blos het ek sien bloei, Madonna, op jou wange. Koud is die Winterberg se top, Met nooit ’n lentebloesem, Maar kouer nog die hart wat klop, Madonna, in jou boesem!


A.G. Visser



Princesse Lointaine


                  (Prinses Van Verre)

Was jy ’n rosebloesem En ek die roos se geur, Hoe heerlik deur die lewe Steeds rondom jou te swewe. Beswymend aan jou boesem, Betower deur jou kleur. Was jy ’n rosebloesem En ek die roos se geur. Was jy ’n lied se woorde En ek die melodie. Hoe sou die dag verheerlik Jou skoonheid so begeerlik; Die nag tril van akkoorde En soetste harmonie. Was jy ’n lied se woorde, En ek die melodie. Was jy die hoogste kranse, En ek die sonnegloed. Jou wange sou dan verwe En op jou lippe sterwe My eerste moreglanse En laaste awend-groet; Was jy die hoogste kranse En ek die sonnegloed Maar jy ’s Prinses van Verre En ek... ’n troebadoer; Al gloei ook my gesange Van liefde en verlange, - Die vuurvlieg vir die sterre - Wat my ten hemel voer; Jy bly Prinses van Verre En ek... ’n troebadoer.


A.G. Visser



Ballade van die roos


            ’n Ou Spaanse gesegde noem die volgende 
             drie stadieë in die lewe van 'n roos: 
               In die more: rosa pallida. 
               In die middag: rosa perfecta. 
               In die aand: rosa incarnada

Waarheen ook my oë mag staar 
En waar ook my voete mag gaan, 
Geduriglik droom ek van haar;
Haar beeltenis lief lag my aan,
Ek sien - as die sterrelig taan -
’n Roosknop wat stadig ontvou: - 
- My noointjie van ver-hier-vandaan -
O „Pallida Rosa”, vir jou!

Die middagson helder en klaar 
Sien neer van sy blou hemelbaan; 
Die roos sal haar hart openbaar 
Aan wie haar geheime verstaan.

O blomkelk, met skoonheid belaan,
Ek smag op die middag-uur lou 
My noointjie van ver-hier-vandaan
O „Rosa Perfecta”, na jou!

Ek ken jou nog nie - dit is waar - 
Maar êrens moet jy tog bestaan;
Die aandson gloei rooi op die blaar
En ’k voel jy’s g’n ydele waan,
Want rooi sprei die liefde haar vaan!
En donker die oë getrou
- My noointjie van ver-hier-vandaan -
O Roos „Incarnada” - van jou!


A.G. Visser  (ca. 1878 - 1929)

oë: ogen (in het Nederlands)
noointjie (nooi): meisje (in het Nederlands)

Ontnugtering


O liefling, as ek luister na die wind
Wat snags so klaend en weemoedig suis
Deur die eikeboom se blare bo die huis,
Dan dink ek terug aan toe ek nog as kind
Gelukkig was, onskuldig, trougesind
Aan wie ek lief gehad het, sonder kruis
Of bitter hoon wat skielik op kan bruis
En skaars versagting in vergeet kan vind.

Dit was die tyd voor ek jou eers gesien het,
Voor ek kon weet dat liefde wreed kan wees
En ergste smart 'n droef genot kan dra.
Eers na my hart se hartstog jou bedien het
Tot sterwens toe, bankrot aan hoop en gees,
Heb ek geleer hoekom die nagwind kla.

C. Louis Leipoldt (ca. 1880 - 1947)



Daar is talle goeie digters in Afrikaans:
A.G. Visser Jan F.E. Celliers Eugene Marais H.H. Joubert C. Louis Leipoldt Totius NP van Wyk Louw Sheila Cussons Antjie Krog Elisabeth Eybers Breyten Breytenbach, etc.





Meer over Afrikaans (in het Nederlands)

Poëzieweb - Poetryweb - Poësieweb  (home)


Poëzieweb-Poetryweb: pageviews since/sinds 21-03-2002 

Statist. Poëzieweb-Poetryweb:
  Free counter and web stats       © Gaston D'Haese: 21-02-2004.
Opgedateer op 01-12-2012.   E-pos: webmaster


Copyright S.A.: ..."literary or musical works or artistic works, other than photographs,
the life of the author and 50 years from the end of the year in which the author dies"...