Rosa Rosarum - Poësie

           Rosa Rosarum

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose Duist're geheime vertrou aan die nag; Sonnestraal-kusse en suidewind-kose. Drome en liefde die lang somerdag. Kom in die soel someraande en luister -Wanneer die nagwind hul drome verklaar- Na die veelvuldige blommegefluister, Bloesem en bloeisel en blad altegaar! Kom waar die lelie - die blanke, die reine - Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan, Blou miosotis - die slanke, die kleine - Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan. Kom as die maanblom - wit sy en satyne - As 'n vorstinne verskyn in haar prag Onder die wierook van roos en jasmyne - Skoonste juweel op die bors van die nag! Daar in die vywer, bestraal deur Arjana, Open die lotus haar heilige kelk, Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana - As sy in glorie van songloed verwelk. Bok-bokmakieries sing bly twee gesange Wanneer die oggend ontwaak in my tuin; Saans koer die tortel sy lied van verlange Bo-uit die troost'lose treurwilg se kruin. Kom in die aand en geniet van haar geure; Foelie, jasmyn, angelier, minjonet; Kom in die môre en kies van haar kleure: Rooi, wit en goud, groen en blou, violet! Kom as die skitter van dou-diamante, Rosa Rosarum, in my Paradys, Dat ek my blomme, my bome, my plante, Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

A.G. Visser (ca. 1878 - 1929)

bokmakierie: groengele vogel met opmerkelijke kreet
minjonet: welriekende tuinplant, reseda




        Blomme


Bloeisel-tuine, bloeisel-kruine,
week met douw gestreelde bome
blaas uit blonde blomme-monde
swaar bevrugte geure-strome.

Groene en goue hallemvoue
hang, besoom met oggendvlamme.
Deur die blare heen gevare,
druip robijne om die stamme.

Glans-omwewe, wandel Lewe
(bont omsneeuw met vlokkies vlinders)
oor die lande.  Aan haar hande
hang blij-huppelende kinders.

Bo viooltjies wiegel viooltjies,
kwetter in 'n laning rose,
rij in rijgies op die twijgies-
als tot sangerkoor verkose.

Ridderspore, fier gebore,
son hul stasieuse toppies
Angeliere, slank van spiere,
neig met grasieuse koppies.

Sij-papawer tussen klawer
vlam in wind-gestreelde rije,
weef 'n drome-waas om lome,
teug-bedwelmde goue bije.

Maagde-skone anemone
bloot voor d'oë van d'oggendglore.
Madeliefies, harte-diefies,
lag vermaaklik met die môre.

Bloeisel-beelde, bloeisel-weelde
staan in kleur en glans geskrewe.
Deur die bome rose-arome
sweef en vul die wandeldrewe.

H.H. Joubert (1874 - 1929)

laning: haag; ook laan


© Kopiereg - Copyright S.A.: ..."literary or musical works or artistic works, other than photographs,
the life of the author and 50 years from the end of the year in which the author dies"...





Bloemengedichten - In het Nederlands
Afrikaanse liefdesgedigte
A.G. Visser - Afrikaanse liefdesgedigte
Jan F.E. Celliers - Afrikaanse gedigte
Die ossewa - Afrikaanse gedigte
JL Cachet (Di Afrikaanse Taal)

Meer over Afrikaans
Liefdesgedichten
Love-poems
Poèmes d'amour
Poemi d'amore
Liebesgedichte


Homepage


Poëzieweb-Poetryweb: pageviews since/sinds 21-03-2002: 

Statist. Poëzieweb-Poetryweb:
  Free counter and web stats       © Gaston D'Haese: 26-02-2004.
Opgedateer op 21-11-2009.   E-pos: webmaster


Stat. Afrikaans