Heloise
Ek het vergeet wat ons gesê het, lief,
die tyd het oud geword -
en ek lê eenkant niemand praat
daar's niemand nie - ek het stil geword.
Kind wat my nooit sal ken nie
nooit en nooit nie - stief groot geword …
Nooit weer in die krom van jou lyf
my lyf as ek slaap nie, o Abelard -
maar koud en vrugteloos en alleen
in 'n huis in die wind
vroetel en nie vind nie …
ou hande in papiere papiere papiere
het kinds geword.

Afskeidsvers aan N.P. van Wyk Louw
Dis twaalfuur nou, die wysers paar,
ek let, en noem jou, weet jy let -
dis of ek ongebore weer
jou wit-rooi duif hoor ritsel het.
Ek het jou voetstap nog gehoor
net om die draai, toe weg,
en met ons laggroet nog by my
geweet hoe word die straat
oneindig skemer tussen rug
en rug - oneindig leeg.
Uit Omtoorvuur

Henri Rousseau
Ek het meteens onthou
dat ek gelukkig is; langsaam, statig kom 'n pou
uit blonde tonnels van die tuin en sleep 'n blom-
bont vereveld waaroor blink luiperd-oë die blou kolom,
die blou en brose buiging van sy nek bekruip - en dan ontvou,
rank op, sprei oor - tril - 'n honderd oë spring!
en wilde glanse bewe oor sy bors, 'n Leda-gril,
'n blou en koper floute in die diep namiddagson.

Bedekte naak
‘n Gloed dra ek
tussen die wêreld en my bloed
meer myne, meer eie aan my as enigiets
‘n sonder-naam
wat, om te vernietig
sou wees vernietiging van my:
o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.

Lentelied
Sal jy vir my ‘n brief skryf, see
noudat my visarend-vlerk gebreek is?
fiets, fietsie, jy ry alleen in die wind
en jou pedale flits in die lig, leeg
die speke sê blink sê blink sê blink
die onverwerkbare woordjie: pyn

Belofte
Die lente kom en reeds droom ek
‘n feller son en brandende sand
en blindende bloutes van ‘n see
en teen die aande se kant
wit kuddes stof en skaap
wat swel en stroom
tussen bepoeierde sipres, knotwilg
en wilderoos deur.
Hoe goed om dit te weet: dieselfde
hoeveelheid somer kom vir seker weer

Na sy die Katolieke geloof aangeneem het,
skryf Cussons 'Die sagte sprong'
Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: ’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees ?
: Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong -
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees ?

Eenvoudige vrae van 'n vroeë Christen
Vergeestelikte stof: my liggaam
mooier as wat hy was?
'n Nuwe aarde: wéér vir die sien,
hoor, ruik, proe en betas?
Of sal ek deursigtig soos 'n vlam
deur smarag en jaspis flits
sonder die honger eet, dors drink
en sag ontlas
ná arbeid en die warm slaap:
ja, selfs nie meer onthóú hoe
vergenoeg ek was
met brood en olie en sout en ná
die aangename moeite 'n ryk bruin
glisterende drol op springende
grassies los?

Die wandeling
En toe dit al donker was
het Hy opgestaan uit die slaap van die sinne
en afgedaal van die berg
en die verbaasde see gaan bewandel
En die wind het jaloers met die water gestoei
en sy hare en klere verwaai
om te wys dat wind ook in tel is by Hom,
en Hy het gelag en hulle laat woed.
Tot Hy die skuit gesien het en hoe dit sukkel,
en dadelik was Hy
Christus: Jesus: hulp, hande, hawe -
En die see en die wind en die bang menseharte
het oombliklik bedaar,
en Hy het by hulle ingeklim, net een
donker liggaam meer,
en met plas van spane land toe gevaar.
Uit In 'n Engel deur my kop

Die wond wat dink
As ek nie onkundig was nie
sou ek nie kon dink nie, en dít
is 'n avontuur wat ek nie sou wou ruil
vir die alwetendheid nie
gestel dat ek kon kies: en kiés:
dié wik en weeg en waag is nóg
'n opwinding wat die alweter
nie kan ken nie
Hoe om mens 'n bewussyn voor te stel
onvermink deur 'n sondeval:
Adam het God gesien maar Aquinas
het Hom bepeins:
hoe rýk die vrugbare duisternis
van die erfsonde:
o gelukkige skuld wat alles weer
ongeken gemaak het om te kán verken:
want daardie Liefde is só
dat dit hierdie tastende blindheid
soms begenadig met weerligtend
in 'n oomblik, één oomblik, só 'n sien
dat ons oorspronklike verlies daarmee vergelyk
ja, soms gering lyk:
want Adam was ongerep maar Aquinas
van die skitterende wond, 'n heilige.

Dankgebed
My Dank na die Mis – Universele Gebed
"Heer, ek glo in U: versterk my geloof.
Ek vertrou op U: versterk my vertroue.
Ek bemin U: laat ek U nog meer bemin.
Ek is spyt oor my sondes: verskerp my spyt.
Ek aanbid U as my eerste begin,
ek verlang na U as my laaste einde,
ek loof U as my gedurige hulp,
ek roep U aan as my liefdevolle beskermer.
Laat u wysheid my lei,
korrigeer my met u regverdigheid,
vertroos my met u genade,
beskerm my met u mag.
Ek gee U my gedagtes, Heer, laat hulle oor U wees;
my woorde: dat hulle U in gedagte steeds hou;
my dade: dat hulle my liefde vir U mag weerspieël;
my lyding: om verduur te word tot u groter heerlikheid.
Ek wil doen wat U van my vra:
soos U dit vra,
solank U dit vra,
omdat U dit vra.
Heer, verlig my begrip,
versterk my wil,
reinig my hart,
en maak my heilig.
Help my om my sondes van die verlede te erken,
en om versoeking in die toekoms te weerstaan,
help my om my menslike swakhede te bowe te kom
en om sterker te word as Christen.
Laat my U liefhê, my Heer en my God,
en help my om myself te sien soos ek is:
’n pelgrim in hierdie wêreld,
’n Christen geroep om die lewens wat ek aanraak
te respekteer en lief te hê,
dié in gesag bokant my,
my vriende en my vyande.
Help my om woede met sagmoedigheid te oorwin,
hebsug met vrygewigheid,
halfhartigheid met toegewydheid.
Help my om myself te vergeet
en om uit te reik na andere.
Help my om verstandig te beplan,
en om risiko’s moedig te neem.
Laat ek geduldig wees in lyding,
beskeie in voorspoed.
Help my om aandagtig te bid,
en om matig te wees met voedsel en drank,
getrou in my werk,
standvastig in my goeie besluite."

Sheila Cussons is oorlede op 25 November 2004 in die ouderdom van 82
in die Katolieke inrigting Nazareth House in Vredehoek
waar sy die afgelope tien jaar gewoon het.
|