Misère (Triolet)
The light that lies
In women's eyes
Just... lies and lies!
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink,
Dat die liefde iets is
so beroerd ongestadig?
Dat die hand wat uit gulde
bokale laat drink,
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink
Dat dit eendag nog edik
en gal weer sal skink,
Ongevoelig meedoënloos,
wreed, ongenadig?
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink
Dat die liefde iets is
So beroerd ongestadig?
Eheu fugaces...
Si jeunesse savait.
Si vitesse avait.
Onthou jy nog, Anita lief,
Die aand daar by die strand,
My hart vir jou ’n ope brief,
Jou handjie in my hand?
Die maanlig het die see gesoen,
Die see … die strand, nog heet –
En ons … wat kon ons anders doen?
Kan ons dit ooit vergeet?
Cherie Yvonne, het jy vergeet
Die les in Afrikaans?
Die beste taal het ons geweet,
Die tyd in ou la France.
En aan my hemel onbewolk
Was jy die goue son;
“Toujours l’Amour” was onse tolk;
Onthou jy nog, Yvonne?
Mooi Gretchen, kan jy nog onthou
Ons tyd van soete min?
Die Neckar met sy waters blou,
Jou ogies blou daarin?
Die donkergroene dennewoud
Was liefdes-heiligdom –
Alt Heidelberg, die jeug van goud,
En jy – sal nooit weer kom!
En, bonnie Jean, onthou jy nog
Die eiland van die Swaan?
Ben Lomond en die donker loch
By heldere somermaan?
Aan rosebanke trek ons twee
(Was dit ’n droom – wie weet?)
Wit swane oor die lewensee –
Kan ek dit ooit vergeet?
Maar eenmaal in die lewe kom
Die liefde weergaloos;
En eenmaal in die gaarde blom
Volmaak ’n wonderroos.
Verwelk, helaas, my tuin se prag –
Weg met die donker stroom –
Die wind deurwaai my hof by nag
En vind my met my droom.
O lippe wat nog lag en lonk!
O harte wat nog klop!
Steeds doem gestaltes ewig-jonk
Uit die verlede op.
“Eheu fugaces anni …” sing
Gedagtes wat nou skroei;
Op velde van herinnering
Pers amarante bloei!
La belle dame sans merci
Die golwing van die lig wat daal
Op goue koringare,
Is glansloos by die gloed wat straal,
Madonna, van jou hare.
Die diepe see het ek aanskou,
Met wonder opgetoë,
Maar nog geheimnisvoller blou,
Madonna, in jou oë.
Ek het die roos met vuur sien gloei
In tuine van verlange,
Maar teerder blos het ek sien bloei,
Madonna, op jou wange.
Koud is die Winterberg se top,
Met nooit ’n lentebloesem,
Maar kouer nog die hart wat klop,
Madonna, in jou boesem!
Princesse Lointaine
(Prinses Van Verre)
Was jy ’n rosebloesem
En ek die roos se geur,
Hoe heerlik deur die lewe
Steeds rondom jou te swewe.
Beswymend aan jou boesem,
Betower deur jou kleur.
Was jy ’n rosebloesem
En ek die roos se geur.
Was jy ’n lied se woorde
En ek die melodie.
Hoe sou die dag verheerlik
Jou skoonheid so begeerlik;
Die nag tril van akkoorde
En soetste harmonie.
Was jy ’n lied se woorde,
En ek die melodie.
Was jy die hoogste kranse,
En ek die sonnegloed.
Jou wange sou dan verwe
En op jou lippe sterwe
My eerste moreglanse
En laaste awend-groet;
Was jy die hoogste kranse
En ek die sonnegloed
Maar jy ’s Prinses van Verre
En ek... ’n troebadoer;
Al gloei ook my gesange
Van liefde en verlange,
- Die vuurvlieg vir die sterre -
Wat my ten hemel voer;
Jy bly Prinses van Verre
En ek... ’n troebadoer.
Ballade van die roos
’n Ou Spaanse gesegde noem die volgende
drie stadieë in die lewe van 'n roos:
In die more: rosa pallida.
In die middag: rosa perfecta.
In die aand: rosa incarnada
Waarheen ook my oë mag staar
En waar ook my voete mag gaan,
Geduriglik droom ek van haar;
Haar beeltenis lief lag my aan,
Ek sien - as die sterrelig taan -
’n Roosknop wat stadig ontvou: -
- My noointjie van ver-hier-vandaan -
O „Pallida Rosa”, vir jou!
Die middagson helder en klaar
Sien neer van sy blou hemelbaan;
Die roos sal haar hart openbaar
Aan wie haar geheime verstaan.
O blomkelk, met skoonheid belaan,
Ek smag op die middag-uur lou
My noointjie van ver-hier-vandaan
O „Rosa Perfecta”, na jou!
Ek ken jou nog nie - dit is waar -
Maar êrens moet jy tog bestaan;
Die aandson gloei rooi op die blaar
En ’k voel jy’s g’n ydele waan,
Want rooi sprei die liefde haar vaan!
En donker die oë getrou
- My noointjie van ver-hier-vandaan -
O Roos „Incarnada” - van jou!
Andries Gerhardus Visser (1878 - 1929)
oë: ogen noointjie (nooi): meisje
|