Licht aan het einde van de echtscheidingstunnel - Lig aan die einde van egskeiding se tonnel (tekst in het Afrikaans)
Hy het my verneuk. Ons persoonlikhede bots te veel. Sy gee nooit meer aandag aan my nie.
Die finansiële spanning het my geknak. Hy laat my soos ’n gevangene in my huis voel.
Soveel dinge kan die belofte van “saamwees tot die dood ons skei” aan flarde ruk. Die tydsverloop tussen kansel en hof toe gaan neem af. Dit is lankal nie meer ’n seven year itch wat paartjies ná sewe jaar van getroude lewe laat kopstamp nie, het James Mills reeds in Junie 2004 beweer in ’n artikel getiteld “Two-year itch infects marriage ” vir News Australia. Sy navorsing toon dat 1 uit elke 12 egpare in Australië ná slegs twee jaar van getroude lewe aan skei begin dink. Wêreldwyd woed die storm van egskeiding elke jaar sterker, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se mees onlangse opname is 176 521 pare in 2004 in die huwelik bevestig. En 31 768 huwelike is in dieselfde jaar beëindig. Dié getal toon ’n toename teenoor 2003. Die meeste egskeidings het onder wit mense plaasgevind, gevolg deur die swart en dan die bruin deel van die bevolking. Laaste was mense van Asiatiese herkoms.
Dit is die harde feite. Maar hoe hanteer ’n mens die emosionele trauma van ’n egskeiding?
Ek het per e-pos gepraat met Brenda Hattingh, stigter van die Divorce Recovery Workshop en ’n vrou wat ná ’n huwelik van 21 jaar deur ’n egskeiding moes worstel. Uit Seattle het sy laat weet: “Die emosies verbonde aan ’n egskeiding stem baie ooreen met die stadiums van rou wat ’n persoon ervaar wat iemand aan die dood afstaan. Jy voel fisiek afgemat en emosioneel buite beheer. Jy’t nie ’n eetlus nie, jy raak maklik siek en jou denkprosesse is deurmekaar.
“ ’n Egskeiding bring ’n enorme verlies en leemte in jou lewe. Jy voel onmenslik eensaam en depressief en dit voel nie asof jy ooit van die terugslag sal herstel nie.”
Soos die dood van ’n geliefde, is ’n egskeiding iets wat slegs met verloop van tyd ligter in jou borskas voel. Maar daar is ’n paar bakens wat jou kan lei op die slingerpaadjie van geleidelike herstel, sê Hattingh. “Gee jouself toestemming om emosies van enige aard te ervaar – dit is normaal en menslik. Probeer om ’n geheelbeeld te vorm van waar jy nou met jouself staan en wees ten alle tye eerlik met jouself.
“Stel vas wat nié verander het nie – dit is belangrik om ankerpunte tot jou beskikking te hê in hierdie tyd waarin dit voel asof jou hele bestaan op sy kop gedraai is.
“Maak vrede met die feit dat jy nie perfek is nie. Gee jouself toestemming om ’n nuwe identiteit en ’n nuwe toekoms te bou.”
SSA se verslag lui dat die meeste egskeidings tussen die ouderdomme van 30 en 44 jaar plaasvind. Jy kan redeneer dat die betrokke partye dan nog ’n hele klompie lewensjare het en dat albei nog jonk genoeg is om weer te trou en elders geluk te vind. Dit is seker waar, maar die ouderdomsgroep dui ook op iets anders, iets veel meer kommerwekkend: Huwelike waarin die man en die vrou 30 tot 44 jaar oud is, is gewoonlik huwelike waarin reeds kinders is. In 2004 is 29 597 kinders deur egskeiding geraak, toon SSA se gegewens.
Volgens Hattingh toon kinders op verskillende ouderdomme ’n unieke reaksie op hul ma en pa se egskeiding. Baie kleuters toon geen reaksie solank die ma steeds teenwoordig is nie. Tussen die ouderdomme van twee en vyf jaar sal sommige vaardighede dalk van voor af aangeleer moet word, soos potjiedissipline.
Tussen die ouderdomme van nege en 12 jaar is kinders in ’n baie sensitiewe stadium en sukkel hulle gewoonlik om die egskeiding te verwerk, veral seuns.
“Praat jou kind deur sy/haar emosies,” beveel Hattingh aan.
“Woede is gewoonlik ’n masker vir ’n dieper seer en terapie is nie ’n slegte idee nie.”
Onthou, die egskeiding ontneem die hele gesin sy veiligheid en die aanskoue van ’n mislukte huwelik kan kinders pessimisties stem ten opsigte van hul eie toekomstige verhoudings.
Hoewel kinders uit ’n gebroke huis meer geneig is om as volwassenes verbrokkelende huwelike te hê, hoef dit jou nie wanhopig te laat oor jou kroos se toekoms nie. Jy en jou gewese huweliksmaat moet as volwassenes die nodige ondersteuning aan die kinders bied, selfs al voel julle self moedeloos en gedaan.
Die lewe ná ’n egskeiding is aanvanklik moeilik, maar met die nodige kennis en ondersteuning kan julle almal dit oorleef en stadig maar seker aan ’n nuwe toekoms bou.
Ondergaan terapie, dalk oorleef huwelik
Sommige huwelike kan, met die nodige professionele hulp en terapie, herstel word.
Philip du Toit, 'n huweliks- en gesinsberader van Somerset-Wes, doen dit daagliks.
"Die geneuk met 'n huwelik is dat geeneen daarvoor opleiding ontvang nie," verduidelik hy.
"Niemand van ons het 'n diploma of graad in getroud wees nie en boonop taan ons vaardighede om konflik te hanteer. Dit lei tot 'n getroude lewe waarin man en vrou nie meer vir mekaar spesiaal is nie en toenemend kopstamp oor misverstande en wankommunikasie. En die uiteinde is 'n egskeiding - wat soms onnodig is."
Volgens hom is intimiteit en respek dikwels die eerste twee eienskappe wat by die agterdeur uitstap en dit kan 'n huwelik erge skade berokken. Boonop is ons vinnig om te gaan raad soek by finansiële adviseurs, mediese dokters en motorwerktuigkundiges, maar sukkel om ons emosionele sy só te hulp te snel.
"Ek verpes die etikette wat aan sielkundige hulp kleef," sê Du Toit.
"Ons is te gewoond om, wanneer 'n ding breek, 'n nuwe een te gaan koop. Maar die huwelik kan nie in 'n kits vervang word nie. Begrawe tog die stigma van berading en gaan kry hulp!"
Wanneer Du Toit vertel van hoe paartjies al deur terapie nuwe waardering vir mekaar gekry het, raak hy skoon opgewonde. 'n Mens kan sien dit is sy passie om die vuur van die liefde tussen mense wat eens op 'n tyd vir mekaar omgegee het, weer te laat opvlam.
Sy wenke:
Moenie wild koop, nuwe verhoudings aanknoop
- Moenie jou isoleer nie. Dit verg energie om in hierdie tyd 'n sosiale lewe vol te hou, maar dit sal jou goed doen om vriende se geselskap, ondersteuning en lawwigheid om jou te hê.
- Moenie gedurig aan jou gewese huweliksmaat dink nie. Makliker gesê as gedaan, maar jy moet op jouself fokus.
- Moenie die kinders dwing om kant te kies nie. Jy gaan hulle net van jou vervreem. Laat die kinders die situasie uitredeneer. Onthou hul verhouding met ma en pa verskil van ma en pa se verhouding met mekaar.
- Inkopies is nie die oplossing nie. Die kooplus gaan jou dalk 'n kort tyd beter laat voel, maar geld kan dalk in die nabye toekoms 'n bietjie skraps raak wanneer jou huishouding skielik nie meer deur twee inkomstes gedra word nie.
- Moenie jou gesondheid afskeep nie. Dit verg baie inspanning en toewyding, juis omdat jy nou futloos en verlore voel. Maar 'n gesonde liggaam kan 'n gebroke siel en 'n seer hart beter dra.
- Moenie jou eks swartsmeer nie. Dit vererger net die situasie en bring die bitterheid weer na die oppervlak. Deel jou diepste emosies net met jou naby vertrouelinge.
- Wees versigtig met nuwe verhoudings. Dit streel dalk jou ego, maar jy het tyd nodig om eers jou wonde te lek, jou waardes te bekyk en te verwerk wat pas met jou gebeur het.
- Vermy 'n radikale beroepsverandering. Dalk wil jy nou 'n totale ommekeer in jou lewe hê, maar te veel verandering kan jou skok. 'n Paar bekende dinge (soos jou werk en jou huis) sal jou dalk dié tyd anker.
- Moenie speurwerk doen oor jou gewese man of vrou se nuwe lewe of liefde nie. Ons is van nature nuuskierig, maar dit gaan nie jou emosionele situasie verbeter nie. Jy mors daardeur net energie wat jy eintlik aan jou herstel moet wy.
- Oorweeg berading. 'n Egskeiding is 'n reuse-skok. Kry die regte hulp - dit kan jou in toekomstige verhoudings help. ? health24.com
Uit de Zuid-Afrikaanse publicatie Beeld van 18 oktober 2006
|