pleidooi


Vergeef my chaos, my onhandigheid,

my weifelende buiging voor gesag

bereid om my uit my nie-weet te red.

Ek weet genoeg om my snags uit die slaap

orent te ruk, genoeg om die grys uur

in lig te doop. Selfs ék volg 'n soort plan

binne die altyd wisselende kryt.

Terwyl ek om my kronkelige manier

al die presiese pyltjies wil ontwyk

weet ek dat êrens 'n soort uitkoms wag,

ook sonder die gestempelde biljet

wat toegang bid tot 'n mooi blokkiesryk.

 

Ontmoet my in ons eie grensloosheid.

 

 

Elisabeth Eybers

(uit: Einder, in Versamelde gedigte, Querido, 1995)

 

<<

>>







©Querido - pagina laatst gewijzigd: 25 oktober 2003